Thursday, June 28, 2007

OTM Press: Beeld.

Fokofpolisiekar se ‘fotoman’ stal uit

Johan Myburg

Liam Lynch, Fokofpolisiekar se “foto man” – soos hy op dié groep se webwerf genoem word – volg dié rockers al sedert 2003 op hul toere en na hul konserte. En as goeie vriend.

En nou stal hy ’n reeks van sy foto’s van dié groep uit onder die titel Open to Misinterpretation.
Die titel van die uitstalling in die nuwe Rooke-galery in Newtown, Johannesburg, kom so reg uit ’n snit op Fokofpolisiekar se derde album, Monoloog in stereo.

Benewens sy werk aan dokumentêre projekte, oor verligting van armoede in Limpopo en MIV/vigs-verwante sake, wys Lynch by dié uitstalling werke van ’n liriese aard oor sy groot passie. “Ek neem foto’s van musiek en taal,” sê hy.

As hy homself dan as “storieverteller” beskryf, kry jy in die Fokofpolisiekar-werk fotografiese vertellings van 2006, ’n stormagtige jaar in die groep se kort bestaan.
As invloed huiwer Lynch nie om te verwys na die kunstenaar en fotograaf Omar Badsha nie, “wat my geleer het om vrae te vra, om skerp waar te neem, om agter die voor die hand liggende te kyk”.

Dat Lynch hierdie waarnemingsvermoë sy eie maak, blyk uit die werke in die uitstalling. Agter die foto’s is dalk ’n storie aan’t ontvou. Maar goed, dit is oop vir waninterpretasie.

Die Rooke-galery open vanaand met die Open to Misinterpretation-uitstalling. Die galery is by Quinnstraat 37, Newtown.

Original Article no longer online. Archived here.

Later.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home